Lof en Dankbaarheid (#3169)

Verheerlik sy U Naam, o Here my God! U is Hy Wat alle dinge aanbid en Wat niemand aanbid nie, Wat die Here van alle dinge is en die kneg van niemand nie, Wat alle dinge is en deur geeneen geken word nie. U wou Uself aan die mens bekend maak; daarom het U, deur middel van 'n woord uit U mond, die skepping in die lewe geroep en die heelal gevorm. Daar is geen ander God behalwe U nie, die Vormer, die Skepper, die Almagtige, die Kragtigste.

Ek smeek U, by hierdie einste woord wat bó die horison van U wil voortgeskyn het, om my in staat te stel om diep van die lewende waters te drink waardeur U die harte van U gekosenes verlewendig het en die siele van diegene wat U bemin opgewek het, dat ek altyd en onder alle omstandighede my aangesig geheel na U mag wend.

U is die God van krag, van heerlikheid en mildheid. Geen God is daar behalwe U nie, die Opperste Heerser, die Alglorieryke, die Alwetende.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Lof en Dankbaarheid (#3170)

Alle lof, o my God, sy aan U Wat die Bron van alle glorie en majesteit is, van grootheid en eer, van oppermag en heerskappy, van verhewenheid en welwillendheid, van ontsag en mag. Wie U ook al wil maak U om tot die Allergrootste Oseaan te nader, en aan wie U ook al begeer, verleen U die eer van herkenning van U Alleroudste Naam. Van almal wat in die hemel en op aarde is, kan geeneen die werking van U oppermagtige Wil weerstaan nie. Van alle ewigheid af het U die hele skepping regeer, en U sal vir ewig aanhou om U heerskappy oor alle geskape dinge uit te oefen. Daar is geen ander God behalwe U nie, die Almagtige, die Mees Verhewe, die Kragtigste, die Alwyse.

Verlig, o Here, die aangesigte van U dienaars, dat hulle U mag aanskou; en reinig hulle harte dat hulle hul na die voorhof van U hemelse begunstiging mag wend en Hom mag herken Wat die Openbaring van U Self en die Daeraad van U Wese is. Voorwaar, U is die Here van alle wêrelde. Daar is geen God behalwe U nie, die Ongedwonge, die Alles-Onderwerpende.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Lof en Dankbaarheid (#3171)

Verheerlik sy U, o Here my God! Ek gee U dank dat U my in staat gestel het om die Openbaarwording van Uself te herken, en dat U my van U vyande afgesny het, en voor my oë hulle misdade en bose werke in U dae blootgelê het, en my van alle gehegtheid aan hulle onstlae gemaak het, en my geheel na U genade en milddadige gunsbewyse laat wend het. Ek betuig U ook dank, dat U uit die wolke van U wil, dit op my laat daal het wat my só geheilig het van die wenke van die ongelowiges en die sinspelings van die dwalers, dat ek my hart stewig aan U vasgeheg het, en van diegene wat die lig van U gelaat ontken het gevlug het. Weer eens dank ek U dat U my in staat gestel het om standvastig in U liefde te wees, en om U roem uit te spreek en U deugde te loof, en dat U my van die beker van U genade, wat alle sigbare en onsigbare dinge oortref, te drinke gegee het.

U is die Almagtige, die Mees Verhewe, die Alglorieryke, die Alles-Liefhebbende.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Lof en Dankbaarheid (#3172)

In die Naam van God, die Allerhoogste! Verheerlik en geprys sy U, Here, God, die ALvermoënde! U voor Wie se wysheid die verstandige te kort kom en faal, voor Wie se kennis die geleerde sy onkunde bely, voor Wie se mag die sterke swak word, voor Wie se rykdom die ryke van sy armoede getuig, voor Wie se lig die verligte in duisternis verlore is, na die altaar van Wie se kennis die kern van alle insig keer en rondom die heiligdom van Wie se aanwesigheid die siele van die hele mensdom ronddraai.

Hoe kan ek dan sing en van U Wese vertel, wat die wysheid van die wyse en die kennis van die geleerde gefaal het om te verstaan, aangesien geen mens kan sing wat hy nie verstaan nie, nòg dit kan vertel wat hy nie kan bereik nie, terwyl U van ewigheid die Onbereikbare was, die Onnaspeurlike. Ofskoon ek magteloos is om op te styg na die hemele van U heerlikheid en sweef n die ryke van U kennis, kan ek maar net U kentekens, wat van U glansryke handwerke vertel, verhaal.

By U Heerlikheid! O Beminde van alle harte, U Wat alleen die pyne van smagtende verlange na U kan stilmaak! Alhoewel alle inwoners van die hemel en van die aarde verenig om die geringste van U tekens te verheerlik waarin en waardeur U Uself bekend gemaak het, tog sou hulle te kort skiet, hoeveel meer om U heilige Woord te loof, die skepper van al U kentekens.

Alle lof en glorie sy aan U, U van Wie alle dinge getuig het dat U een is en dat daar geen ander God behalwe U is nie, Wat van ewigheid bo alle weerga of ewebeeld verhewe was en vir altyd dieselfde sal bly. Alle konings is slegs U dienaars, en alle wesens, sigbaar en onsigbaar, is as niks voor U nie. Daar is geen ander God behalwe U nie, die Goedgunstige, die Kragtige, die Allerhoogste.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Lof en Dankbaarheid (#3173)

God getuig van die eenheid van Sy Godheid en van die enkelvoudigheid van Sy eie Wese. Op die troon van die ewigheid, uit die onbereikbare hoogtes van Sy stand, roep Sy tong uit dat daar geen ander God behalwe Hom is nie. Hy self, onafhanklik van alle andere, was altyd 'n getuie gewees van Sy eenheid, die bekendmaker van Sy eie natuur, die verheerliker van Sy eie wese. Hy is, voorwaar, die Alsterke, di Almagtige, die Skone.

Hy is oppermagtig oor Sy dienaars, en staan oor Sy skepsels. In Sy hand is die oorsprong van gesag en waarheid. Hy verlewendig die mense deur Sy tekens, en laat hulle deur Sy toorn sterwe. Hy sal nie gevra word oor Sy werke nie, en Sy mag is in staat tot alle dinge. Hy is die Sterke, die Alles-Onderwerpende. Hy hou die heerskappy van alle dinge binne Sy bereik, en aan Sy regterhand is die Koninkryk van Sy Openbaring gevestig. Voorwaar, Sy mag omvat die hele skepping. Oorwinning en opperheerskappy is Syne; alle mag en soewereiniteit is Syne; alle glorie en grootheid is Syne. Hy is, in der waarheid, die Alglorieryke, die Kragtigste, die Oneindige en Ewige.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

